Sunday, June 7, 2015

Nicole

deur Karoopoet

Gister nog ‘n klein ou bondeltjie in doek
Vandag jou eerste wintersbal
Tyd is besig om jou van my te steel

Uitgeklee in wit en goud, lippies rooi
Onthou ek jou skaars ure oud
Klein op my bors gelê
My een hand, jou hele kombers

Wou maar van eens af op jou eie staan
Trots, amper hardkoppig
Altyd beslis in jou Ja en jou Nee

Nou vra die lewe,  ek moet laat gaan
Weet nie of ek kan, In my oë
Steeds maar nog net daai paar uurtjies oud

(Lief jou)


Sunday, May 24, 2015

'n Traan het oor my wang gerol

Die eerste traan
Toe almal begin kla oor die krag wat af is
Sonder om te onthou van nog n kindjie  wat verdwyn het

Die tweede traan
Toe almal praat oor die sport
Maar niemand praat oor die laaste plaasmoord nie

Die derde traan
Oor die nuwe motor wat jy alweer gekoop het
Terwyl  iemand sy eie vrou laat vermoor het

Al drie trane omdat mense nie meer omgee nie
Al drie trane omdat ander goed belangriker geword het

Daar het weer ‘n traan oor my wang gerol 
omdat ek dit nie kan verander nie

Sunday, February 8, 2015

Eie belang


Stil het ek gesit

In groot stilte die lewe onder oë geneem
Dit wat by my verby beweeg het
Mense en dit wat hul belangrik laat voel

Sommige met groot woorde en baie aansit
Ander in groot besittings en vertoon
Elkeen soos hy belangrikheid meet
Nie een maal het ek iemand gesien wat ‘n ander dra
Of iets vir iemand anders gee nie
Die wat wel het, het ook dít in groot vertoon gedoen
'n traan het oor my wang gerol
Want ek het geweet
Als was vir almal net in eie belang.

Friday, March 7, 2014

Kersvlam

Die flikkerende  kersvlam
Gooi sy skadu’s teen die muur
Elke verhewing en gaatjie
Duidelik uitgewys
Vergroot tot iets enorm

Is ons die kersvlam
In ons medemens se lewe
Sien ons ook al die klein goedjies raak
En vergroot onbenullighede
Tot onvergeeflike misstappe

Miskien moet ons eerder die son wees
Wat elke gaatjie vol skyn
En ander deel van die
Groter prentjie sien

(Power outage 06.03.2014)

Sunday, November 17, 2013

totsiens

Mense om jou
Bekende gesigte
Meeste vriendelik
Knik die kop in groet

Ligsinnige gesprekke
Oor onsinnige onderwerpe
Net om die oomblik vol te kry
Awkward moments” te vermy

Wil jy regtig weet
Betrokke raak
Wil ek regtig deel
Dit wat diep in my lê

Ons leef maar tussen ons eie mure
Hou maar voor
Dit is makliker
Want ons weet

Ek weet
Jy is nie ‘n vriend nie
Net ‘n kennis
Totsiens


Wednesday, August 14, 2013

Vir Zindi

Met haar lang hare staan sy kaalvoet voor my
Klein, kordaat en baie braaf
Ruk die skouertjies agter oor as sy haar sin nie kry
Haar voetval wat klap op die plankvloer
Gee uiting aan haar temperament

Saans as dit donker word raak sy weer klein
Kleiner as haar parmantige tien
Krul op my skoot op
Raak die stemmetjie weer fyn

Deur haar kuns en drama leef sy haar uit
Altyd aan die teken of verf
Skryf sy haar gediggies, stories
of sommer net gedagtes neer

En as sy my sien gooi sy haar armpies
tot by die elmboog vol bordkryt

Om my nek. 

Tuesday, August 13, 2013

Klatergoud ~ die alternatief

Die mure wat ons bou
om die hartseer van ons lewe
Binne te hou

Wat steek jy weg
watter fronte hou jy voor

Ons hekel ons kombersies
van klatergoud
as ons genoeg voorhou
sal niks uitsteek
en sal niemand weet nie

Dat jou lewe leeg is
en klatergoud ook jou skans is
die alternatief tot 'n lewe.