Sunday, November 17, 2013

totsiens

Mense om jou
Bekende gesigte
Meeste vriendelik
Knik die kop in groet

Ligsinnige gesprekke
Oor onsinnige onderwerpe
Net om die oomblik vol te kry
Awkward moments” te vermy

Wil jy regtig weet
Betrokke raak
Wil ek regtig deel
Dit wat diep in my lê

Ons leef maar tussen ons eie mure
Hou maar voor
Dit is makliker
Want ons weet

Ek weet
Jy is nie ‘n vriend nie
Net ‘n kennis
Totsiens


Wednesday, August 14, 2013

Vir Zindi

Met haar lang hare staan sy kaalvoet voor my
Klein, kordaat en baie braaf
Ruk die skouertjies agter oor as sy haar sin nie kry
Haar voetval wat klap op die plankvloer
Gee uiting aan haar temperament

Saans as dit donker word raak sy weer klein
Kleiner as haar parmantige tien
Krul op my skoot op
Raak die stemmetjie weer fyn

Deur haar kuns en drama leef sy haar uit
Altyd aan die teken of verf
Skryf sy haar gediggies, stories
of sommer net gedagtes neer

En as sy my sien gooi sy haar armpies
tot by die elmboog vol bordkryt

Om my nek. 

Tuesday, August 13, 2013

Klatergoud ~ die alternatief

Die mure wat ons bou
om die hartseer van ons lewe
Binne te hou

Wat steek jy weg
watter fronte hou jy voor

Ons hekel ons kombersies
van klatergoud
as ons genoeg voorhou
sal niks uitsteek
en sal niemand weet nie

Dat jou lewe leeg is
en klatergoud ook jou skans is
die alternatief tot 'n lewe.

Monday, July 22, 2013

Winter

Die wind waai die nat koue nader
Fluister sy storie om die hoek van die gebou
Donker wolke hang swaar oor Bloupunt
Skets die verhaal van winter

Dit word vroeg donker
Die grou aanlig vertel ʼn storie van eensaamheid
Wat beaam word deur die dof geel lig
Van ʼn kers wat vanuit ʼn enkel venster brand

Geen sagte kaggelvuur en gesellige stemme
Net ʼn jong vrou wat by haar skryftafel
Na die kerslig staar

In die vlam sien sy haar lewe van gister
Dit is koud buite
En in die winter van haar lewe


                               vir M

Thursday, July 4, 2013

Herhinderinge uit die klavier

eers net klanke uit die klavier
dan note wat melodieus saamgesnoer word
Dit gee geboorte aan die musiek

die wysie is vaagweg bekend
roer aan ver  herhinderinge
wil die onthou in my wakker maak

Stadig kry die woorde hul plek tussen die musiek
woorde wat herhinderinge bring
Periode uit my lewe wat in die stof van vergeet begrawe was.

Deur die newels van die herlewing sien ek haar weer
'n traan wat teen haar wang afloop
stil omdraai, dan is sy weg

Die klanke van die klavier sterf weg
bitter soet herhindering verander in stil verlange
na dit wat nooit was...

Thursday, May 9, 2013

Die Siel (Privaat)

Ek probeer skryf
my gedagtes orden
dit wat deur my kop maal

(privaat)

Durf ek dit met ander deel
Hoe sal hulle daarop reageer?

Die woorde wat in my opkom
klief diep deur my siel

ek besef die implikasies
as ek dit sou openbaar

ook die effek op ander
sou dit opgesluit bly
in die donker kuile van die siel

Poppekas

Poppe van die Groot Hand?

Die wêreld is die poppekas
Die karakters, ek en jy!

Groot hand van bo
Manipuleer elke beweging

Komies

Met die trek van n toutjie
Voer ons ons bewegings uit
Word die woorde in ons monde gelê

Ironies

Die poppe mag wik
Maar die Groot Hand beskik