Sunday, June 7, 2015

Nicole

deur Karoopoet

Gister nog ‘n klein ou bondeltjie in doek
Vandag jou eerste wintersbal
Tyd is besig om jou van my te steel

Uitgeklee in wit en goud, lippies rooi
Onthou ek jou skaars ure oud
Klein op my bors gelê
My een hand, jou hele kombers

Wou maar van eens af op jou eie staan
Trots, amper hardkoppig
Altyd beslis in jou Ja en jou Nee

Nou vra die lewe,  ek moet laat gaan
Weet nie of ek kan, In my oë
Steeds maar nog net daai paar uurtjies oud

(Lief jou)


Sunday, May 24, 2015

'n Traan het oor my wang gerol

Die eerste traan
Toe almal begin kla oor die krag wat af is
Sonder om te onthou van nog n kindjie  wat verdwyn het

Die tweede traan
Toe almal praat oor die sport
Maar niemand praat oor die laaste plaasmoord nie

Die derde traan
Oor die nuwe motor wat jy alweer gekoop het
Terwyl  iemand sy eie vrou laat vermoor het

Al drie trane omdat mense nie meer omgee nie
Al drie trane omdat ander goed belangriker geword het

Daar het weer ‘n traan oor my wang gerol 
omdat ek dit nie kan verander nie

Sunday, February 8, 2015

Eie belang


Stil het ek gesit

In groot stilte die lewe onder oë geneem
Dit wat by my verby beweeg het
Mense en dit wat hul belangrik laat voel

Sommige met groot woorde en baie aansit
Ander in groot besittings en vertoon
Elkeen soos hy belangrikheid meet
Nie een maal het ek iemand gesien wat ‘n ander dra
Of iets vir iemand anders gee nie
Die wat wel het, het ook dít in groot vertoon gedoen
'n traan het oor my wang gerol
Want ek het geweet
Als was vir almal net in eie belang.